Wegkomkans B&B se deure is op 2004-12-01 vir gaste geopen.
Saam met die eerste gaste wat ontvang is, het die appelkose, perskes en pruime in die vrugteboord ook ryp geword.
Aangesien die vrugte nie verlore kon gaan nie, het ek begin konfyt kook en inlê.
Aanvanklik was dit slegs vir die gebruik in die gastehuis en as geskenke vir familie en vriende.
Die bottel en bêre gogga het egter gou gebyt en ontwikkel tot ‘n sub-bedryf van die gastehuis.
Ek probeer steeds fokus om konfyt te kook met produkte uit die omgewing.
Konfyt word nou saam met heerlike tuisgemaakte lekkernye versend.
Die fudge bevat regte botter, die beskuit is propvol sade en neute en die gemmerkoekies word volgens ‘n familieresep gebak.